Description
Omnibus 20 sluit drie prag verhale in uit die pen van Ena Murray:
Die meisie van Klaradynstraat (1971): Prokureur Owen Kemp het Elsa Brits, die meisie van Klaradynstraat, van haar agterbuurbestaan verlos, maar nie van probleme en pyn nie. Selfs in die mees vooraanstaande huis is daar geheime onderstrominge en hartseer. Toe Owen Kemp by die spesialis hoor dat sy dogter se pynaanvalle deur ‘n diep ongelukkigheid veroorsaak word, is hy verbyster. Isobel het dan alles wat haar hart begeer en staan boonop op trou met genial dokter Markus Richter! Maar Elsa weet die diagnose is korrek, want sy ken Isobel se geheim, sy weet van Jakob Olwage…
As die lied verstil (1984): Verhaal van Chrissie Erasmus van Dennedal. Almal op die dorpie ken haar as die goeie kind wat na haar ouma omsien, wat Sondagskool hou en ‘n staatmaker is by die basaartafel. Ouma droom al van ‘n huwelik tussen Chrissie en die gawe Jan Barendse. Maar oornag is die skindertonge behoorlik los, want Chrissie van Dennedal word Christine van Johannesburg. Intuïsie vertel Ouma dat daar ‘n dag sal aanbreek dat Chrissie sal wil terugvlug na die rustige vallei van Dennedal wanneer die hoëhoogtes van die vermaaklikheidswêreld vir haar te veel word…
Die pad terug huis toe (1977): Wentel om ‘n traumatiese tydperk in die lewe van Karina Oosthuizen, gesogte en pragtige topmodel. ‘n Grusame motorbotsing laat haar blind en verlam, en eenskalaps weer totaal afhanklik van die gepensioneerde moeders wat sy al byna afgesterf het – die pad terug na die armsalige skakelhuisie waarop sy so neergesien het. Maar onverwags is daar iemand wat haar en haar moeder ‘n toevlug bied in ‘n pragtige wit huis by die see – perfek ingerig vir ‘n persoon in ‘n rolstoel. Sal Karina se trots haar toelaat om daar te bly as sy weet dat De Waal Venter die weldoener is – die seun wat sy as kind so verneder het en met wie sy nie wou assosieer nie?












