Description
Omnibus 39 drie prag verhale uit die pen van Ena Murray
Eensaam op Wegdraai (1978): ‘n Skaduwee skuif oor Bokkie en Tokkie se sorgelose kaalvoetlewe, waarin sokkerspel saam met die dorpseuns die hoogtepunt van pret is. En die rede? Ontluikende vroulikheid … vloekwoord en blykbaar ‘n ongeneeslike siekte. Dis veral juffrou Estelle Huizeman se arendsoog wat die dinge opmerk. Nog meer, daardie fyn oog bespeur ook die manlikheid van hul wewenaar-pa en skoolhoof, Henk Beukes. Die tweeling besef gou hulle sal ‘n blink plan moet smee as hulle nie juffrou Huizeman as hul nuwe ma wil hê nie. Die oplossing: hulle soek eerder self ‘n moeder so na hul hart. En die aangewese plek is Soek en Vind, tydskrifhoekie vir eensames. Al wat Bokkie en Tokkie nou moet doen, is om uit al die aansoeke die regte een te vind. Iemand wat ‘n eie ma vir hulle kan wees. Want so ‘n vrou sal tog hul pa se hart ook steel, of hoe?
Verworpe silwer (1983): Op sy eerste huweliksnag fuif Louis Mocke saam met sy vriende in die hotelkroeg. Was sy erfporsie tog die lokaas vir sy blitshuwelik met Santie Marais? Jaag sy broer, Darius, net spoke op wanneer hy haar waarsku om haar goed te vat en loop? Wanneer Dottie Willemse, Louis se vorige liefde, terugkeer met ‘n seuntjie aan die hand, ruik Eloffsdal nog ‘n Mocke-skandaal waaroor hulle die mond kan uitspoel. Want Darius waarsku Louis: “As ek jou naby haar vang, breek ek jou nek.” Uit flardes skindestories en dreigemente probeer Santie sin maak uit die Mocke-raaisel. Waar pas Tanja, Darius se gewese vrou, in? Wat het van haar en Ferdi, haar minnaar en Dottie se broer, geword? Wie is die pa van Dottie se kind? Maar voor Santie al die legkaarstukkies sorgvuldig inmekaar kan skuif, tref ‘n ramp die Eloffsdallers wat geen mens se lewe onaangeraak laat nie.
Wag-’n-bietjiebos van die liefde (1985): ‘n Nuwe geval in Keerboomstraat, H.A. van der Merwe, keer Lisbe Erwee se geordende bestaan as maatskaplike werker omver. Hoekom groef daar soveeel harde, bitter lyne op die man se gesig? Hoekom moes ‘n jong ma sterf en tweelingseuntjies wees agterlaat? Die wag-’n-bietjiebos by die voorhekkie van Helm se huis is vir hom simbool van sy lewe. Bid dat jou eie lewe nie in ‘n wag-‘n-bietjiebos vasgevang word nie, waarsku Helm vir Lisbe. Wanneer Lisbe op ’n dag self letterlik verstrik raak in daardie bos, word dit ook simbool van die vangtakke waaruit sy haar nie kan ontwar nie. Want êrens langs die pad het sy haar hart verloor. En nes Helm, weet sy nie hoe om te ontsnap uit die takke van die wag-‘n-bietjiebos van die lewe nie.












