Description
Omnibus 5 van ’n immergewilde skrywer se werk bestaan uit drie liefdesverhale
Raaisel van die liefde (2004): Brian Phillips is die mooiste man wat Pikkie al ooit gesien het. Sjarmant en wêreldwys – en boonop ken hy nie die einde van sy geld nie. Neville Meyer, die skilder, is oulik en gaaf – maar haar vriendin, Riana kan hom maar kry. En in die ongepoetste bou-inspekteur Frans Goedhardt het Pikkie nog minder sin. Hy’s arrogant en ‘n regte pyn in die nek. Nee, Brian Phillips is beslis die man vir haar – die een oor wie sy nog altyd gedroom het! Maar kan sy hom vertrou? Is hy wat hy voorgee om te wees, of het hy ook maar voete van klei soos al die ander?
Klippie in die skoen (1995): Dokter Tobie wil ‘n ouerige dame hê om sy kinders op te pas. Vandat sy vrou van hom geskei is, sukkel hy om die kinders groot te maak. Wie is hierdie bloedjong Jantjie wat sommer opdaag uit die platteland vir die pos as kinderoppaster? Sy sê sy is sy niggie, maar niggies soen mos nie hulle neefs só nie … Jantjie is vir Tobie ‘n regte klippie in die skoen, veral noudat sy gewese vrou en sy nooi die wêreld vir hom begin warm maak.
Verlange na Brandersbaai (2006): As sy maar net so vry en onafhanklik van haar ouers kon wees soos haar vriendin Wanda! is die twintigjarige Lizette Brink se grootste versugting. Toe Wanda ook nog terg dat sy darem ‘n regte mamma-se-dogtertjie is, besluit Lizette sy gaan saam met Wanda op Brandersbaai vakansie hou. En haar nuutgevonde vryheid smaak nog soeter toe sy die uiters aantreklike Hennie Smith ontmoet en dit sommer liefde met die eerste oogopslag is. Aan Wanda se waarskuwings dat sy gans te min ondervinding van mans het, steur sy haar min. Ook Wanda se beterweterige oom, Tom, met sy reuselyf en harige borskas soos ‘n orangoetang, moet haar net uitlos. Sy wat Lizette is, weet wat sy wil hê…













