Description
Satyn Omnibus 4 bevat drie uitsonderlike liefdesverhale:
‘n Reënboog vir Aralie – Ettie Bierman (2009): Wanneer Aralie se eksman, Niel, haar smeek om in sy plek as veearts op ’n wildplaas in Namibië te gaan waarneem, stem sy teësinnig in. Want na haar egskeiding het Aralie dringend geld nodig. Maar op Belelapa is dinge beslis nie wat sy verwag het nie. Daar is geen fasiliteite nie aangesien alles nog in aanbou is. En boonop behoort die plek aan Franco Conradie, “olifant fluisteraar”, TV-man en bekende natuurkenner – en hy is glad nie seker of die tenger rooikop veearts die werk sal kan doen nie. Asof dit nie genoeg is nie, besluit Neil dat hy Aralie ten alle koste wil terugwen. Moet Aralie Niel nog ’n kans gee?
Skoonlief en die dirigent – Marijke Greeff (2009): Nina O’Neill, met troetelnaam Skoonlief, is ‘n inspekteur van Georganiseerde Misdaad in die Polisiediens en het ses ouer broers. Na ‘n voorval waar Nina op invloedryke mense se tone trap, kry sy opdrag om deel uit te maak van Quinn Chauncey se sekuriteitspan tydens sy optrede in Suid-Afrika. Quinn mag dalk ’n wêreldberoemde Ierse dirigent en violis wees, maar Nina beskou sy uitverkoopte konserte as tydmors en onbelangrik. Quinn hoor Nina by ‘n troue sing en toe een van sy soliste siek word, vra hy Nina om in te staan. Maar die vonke spat behoorlik tussen Skoonlief en die dirigent!
Liefde in fokus – Zoë Gouws (2010): Xante Knobel is ’n fotograaf wat dit haat dat mense na haar kyk. Faan Viljoen is ’n argitek met ‘n passie vir bekostigbare behuising. Hy is ook die pa van ’n dogtertjie wat graag ‘n model wil word – iets wat vir hom heeltemal onaanvaarbaar is. Die dogtertjie se ma, sy eks, was immers ’n model, en kyk waarop het dít uitgeloop…In ’n Kaapse township, tydens ’n fotosessie van Faan Viljoen se behuisingsprojek, ontmoet hy vir Xante. Dit lyk asof hulle op professionele vlak goed sal saamwerk, maar toe Faan Viljoen ’n paar weke later sien hoedat Xante sy dogtertjie afneem met die oog op modelwerk, is die gort gaar!










