Description
Hartklop Omnibus 2 bevat drie liefdesverhale wat teen ‘n mediese agtergrond afspeel:
Droomdokter – Amelia Strydom (2011): Haar Aktiewe Geboorte-eenheid is vroedvrou Mila Mouton se hele hart en siel. Sy’s darem nog liewer vir haar kleintjie, Melissa, maar sy stort elke bietjie energie wat ma-wees vir haar oorlaat, in haar kraamkamer en haar dienste as bemagtigende vroedvrou. Ná sy deur haar eks met ’n kleine babatjie gelos is, het sy nie juis tyd vir mans nie maar haar nuwe buurman, Derek, is net onweerstaanbaar! Wanneer die hospitaal waar sy haar geboorte-eenheid se perseel huur, besluit dat haar deure moet sluit ter wille van iets meer winsgewends, moet Mila egter agterkom dat haar buurman betrokke is by dié plan. Gaan haar loopbaan as vroedvrou oorleef?
In jou hande – Malene Breytenbach (2008): Toe Michelle Jansen, jong arbeidsterapeut, saam met haar vriendin, Sandra in ‘n motorongeluk beland, verander haar hele lewe. Vir meer as ‘n maand lê sy hulpeloos in die hospitaal, haar kakebeen met drade geheg sodat sy nie kan praat nie, al twee haar enkels gebreek en haar regterhand vergruis. Sal Sandra sonder breinskade uit haar diep koma ontwaak? Want Michelle het die motor bestuur en sy voel Sandra se toestand is háár skuld. Al ligpunt in haar lewe is die deernisvolle behandeling wat sy ontvang van dokter Douw Hefer, die ortopediese chirurg en haar hele toekoms is letterlik in sy hande….
Liefde op Jannasbaai – Vera Wolmarans (2007): Op die kusdorpie Jannasbaai voer dokter Elmo Kasselman ‘n rustige, gevestigde bestaan. Maar toe ‘n onbekende meisie wat haar sig én geheue weens ’n ongeluk verloor het aan sy sorg toevertrou word, word sy geordende bestaan heeltemal omvergegooi. Want die brose vreemdeling roer sy hart op ‘n total nuwe manier…











