Description
Omnibus 10 met drie lekkerlees-liefdesverhale
Die Suidwestertjie (1985): Sarie Wessels ken net die sonkant van die lewe – tot daardie onheilsdag dat die lot juis háár tref om Blouwildebees, oftewel grootbaas Hugo Kritzinger, se sekretaresse af te los. Sommer met die intrapslag loop dinge skeef … Tuis duik ‘n onverwagte penarie in Hugo se lewe op. Hy huisves sy broer, Paul en die se twee kleuters terwyl hul ma ‘n rugoperasie ondergaan, maar blindedermontseking stel sy huishoudster ‘n maand lank buite aksie. Wat nou gedaan? Sarie, die aflos-huishoudster, steel dadelik die twee kleuters se harte en met haar sonnige geaardheid laat sy selfs vir Hugo, die bot buffel, geleidelik ontdooi en anders na die lewe kyk. Totdat die snobistiese Alice Sullivan op die toneel verskyn en hom waarsku dat daar dalk slinkse planne agter die Suidwestertjie se onskuld skuil.
Dierbare drosters (1987): Toe Betsie Viljoen se pa weens geldnood hul plaas aan Barend von Throtha moet verkoop en hy by die Ebony-myn gaan werk, is ‘n wit vlam van wraak in haar aangesteek. En nou, na jare op die stowwerige myndorpie, is Jasper Viljoen oorlede en wag sy en haar vier pragtige halfsussies op die mynmagnaat om hulle te kom haal. Gelukkig kry hulle snuf in die neus oor sy plan om vir Betsie werk te kry en die ander vier weeshuis toe te stuur. Hulle vlug na die ou berghut op die plaas, as hulle moes geweet het dat ou Barend se seun, Ludwig, op die plaas boer, sou hulle dadelik die hasepad gekies het. Wannneer Barend besluit om self op Kameeldoring na die Viljoen-dogters te kom soek, het Ludwig sy eie planne om hulle te beskerm. Want Betsie is die eerste meisie wat sy gewese verloofde, Anette Adendorf, se beeld uit sy hart verdryf. Anette daag egter onverwags op …
‘n Nooi vir Omdraaikans (1998): Met ‘n slinkse slenterslag sorg Hilda Cronjé dat haar vriendin Mariet Fourie weer eens haar kastaiings uit die vuur moet krap. Na ‘n tref-en-trap-ongeluk jaag Hilda weg. ‘n Desperate Bernard Cronjé reël dat sy selfsugtige dogter drie maande tikster moet speel vir doktor Kobus Liebenberg, sielkundige navorser op die afgeleë Omdraaikrans. Maar Hilda het net een ambisie en dit is om ‘n topmodel in Johannesburg te word. Eers op Omdraaikrans ontdek Mariet waarvoor sy haar ingelaat het. Almal minag en wantrou haar en sy sukkel om die rol van haar selfsugtige, gewetenlose vriendin oortuigend te speel …













