Description
Gunstelinge 3 met drie spog verhale.
Die groot legkaart (1974): “Jy’s soos my pa – eers beroof hy my van ons kind – nou jy ook!” ‘n Bitter aanklag… maar byna tien jaar gelede was Tina Eksteen se opregte, naïewe wens: “Ek wil saam met jou droom oor môre, saam met jou onder begin, Renier, saam met jou ‘n gelukkige toekoms bou.” Want hoe kon Tina ooit droom dat haar pa haar liefde en huwelik werklik sou verwoes? Geldsug het van Gerhardus Eksteen ‘n monster sonder siel of gewete gemaak – ‘n demoon wat sy dogter se lewe so wreed versnipper dat sy geen hoop het om weer al die stukkies op te spoor en in ‘n legkaart met sin en betekenis te pak nie.
Skemeruur (1987): Lynne Steenberg verloor albei haar ouers in ’n motorongeluk, en boonop daarna moet sy uitvind dat sy ’n aangenome kind is. Nie net party van haar vriende nie, maar ook haar verloofde, Carl Human, draai hul rug op haar. Want wie weet watter duister dinge skuil nie dalk in haar herkoms en genie nie? Dit raak ‘n obsessie by die pragtige, belowende wetenskapstudent om haar biologiese ma op te spoor en so begin haar soektog na haar regte moeder . . . én ware liefde.
Winde van herinnering (1982): ‘n Fratsgolf slinger ‘n seiljag teen die rotse aan die kus naby Hamilton Estate, die Britse landgoed van hertogin Teresa de Malandrinos. ‘n Blondekop met ‘n Suid-Afrikaanse paspoort en ‘n geskende gesig is al drenkeling. Die flenters van haar lewe sou Thea Strassheim weer bymekaar kon skraap; haar geskende gesig sou ‘n plastiese chirurg tot sy ware skoonheid kon herstel. Maar die letsels aan haar hart… net die verbitterde vrouehater hertog Duarte de Malandrinos kan dit genees.











