Description
In Ena Murray se Omnibus 16 is daar weer, soos die skryfster se bewonderaars dit goed ken, ‘n onverbeterlike kombinasie van liefde en spanning om leesgenot te versekere.
Onrus op Oshakati (1975): In die dae toe die grensoorlog op sy felste woed… en dr. Linda Maartens hoop sy kan nou die donker wolk ontvlug wat oor haar professionele naam hang. Maar die verlede het ‘n manier om ‘n mens te agtervolg, en onbewustelik ry sy ‘n intrigue binne wat lewensgevaar inhou. By die Ovambo-sendinghospitaal spat die vonke van die staanspoor tussen haar en dr. Louw Hoffman. Wat soek dié briljante snydokter op Ohakati? Sy moet hom wys dat sy opgewasse is vir die taak. Maar dis nog die minste van haar probleme, want op Oshakati is daar mense wat skynbaar alles van haar af weet, gewetenlose mense wat ‘n houvas op haar het. Daar is terreuraktiwiteit, en daar is dwelmsmokkelary – en hulle wil vir Linda in ‘n web van misdaad vaspen.
Regters oor gister (1982): Die verlede haal vir Mignon Preller in – ‘n verlede waaraan sy heeltemal onskuldig is… Mignon is ‘n gelukkige, sorgvrye student uit ‘n stabiele ouerhuis. Wanneer sy hoor dat haar beste vriendin ‘n aangenome kind is, ontstel dit haar die – tédiep, want sókruip ‘n ou verskrikking uit die verlede ongevraag die vreedsame tuiste binne van Fred en Anita Preller vir Mignon en haar liefling-broer, Steve, probeer skep het. Twintig jaar gelede het hulle ‘n verkeerde besluit omtrent Mignon geneem, ‘n fout wat nou duisend maal vergroot terugkom en twee jong mense in die ban van ‘n verbode liefde hou.
Weerklank van die liefde (1973): Wanneer ‘n wildvreemde meisie per ongeluk in dr. Rudolf van der Merwe se lewe – én sy woonstel, sy bed en sy slaapklere – beland, raak hy onherroeplik betrek by ‘n tergende raaisel. Wand dié naamlose meisie ly aan geheueverlies, en al leidraad is ‘n koerantberig oor ‘n onopgeloste moord waarvan die sleutelverdagte spoorloos verdwyn het… Madie, noem Roedulf sy “nuwe vrou” (hy moet die skyn terwille van sy reputasie bewaar) en hy weier om te glo sy kon haar stiefpa vermoor het. Maar waarom het sy gevlug? En van waar die duidelike tekens van aanranding aan haar liggaam? En die trouring aan haar vinger? Net ‘n groot skok sal haar verlede weer kan oopruk. En dis presies wat die verleidelike joernalis met die rooi kop, Catherine, besluit om te doen.















