Description
Keur 12 met drie liefdesverhale uit die pen van Ettie Bierman
Vermoedelik verlief (1978): Die dag toe sy agtergekom het dat haar kêrel saam met ‘n ander, beeldskone meisie op die lughawe gesien is, het Mynie Cronje se hele wêreld in duie gestort. Nie dat Heinz du Preez nie probeer verduidelik het nie, maar hoe meer hy verduidelik het, hoe minder het sy hom geglo. In ‘n desperate luim skryf sy aan Wewenaar, ‘n middeljarige prokureur wat in ‘n tydskrif se hoekie vir eensames na ‘n penvriendin gesoek het. Na ‘n kortstondige briefwisseling ontmoet sy hom, en die eerste keer na sy Heinz die trekpas gegee het, is daar weer sterre in haar oe. Wewenaar het die pragtigste naam van Conrad Duvenhage, hy is skatryk en aantreklik en hy beloof Mynie alles wat sy verlang. Natuurlik het Conrad Duvenhage ‘n prys – en hierdie prys is hoog – maar daarvan hoef Mynie mos nie nou al te weet nie. Heinz kom van Conrad te hore, maar intussen het hy ‘n verhouding met Elma Visagie, wat saam met Mynie skoolhou, aangeknoop. Maar toe Mynie dit hoor, is die vet behoorlik in die vuur…
Tien roepees vir ‘n lewe (1978): Die sypaadjie is te smal vir Arista om uit die motor se pad te kan spring en besef die motor sal nie betyds kan uitswenk nie en gaan haar tref en teen die gebou agter haar papdruk… Sy het nie tyd om te dink nie maar sy begin vorentoe hardloop, om die bruggie te haal… Die motorbestuurder besef te laat wat die vroumens se plan is. Toe sy onverwags vorentoe hardloop, pluk hy met ‘n lelike woord aan die stuurwiel. ‘n Voet in ‘n rooi sandaal skop wild teen die Citroën se windskerm, daar is ‘n flits van wydgerekte, vreesbevange blou oë en die klank van skeurende metaal…
‘n Rooikop en twee ridders (2006): Toe die arrogante ou met die Blou Bul-T-hemp vir rooikop Addy Lategan probeer ogies maak tydens die Paddanag wat sy vir Matotoland Ekotoerisme aanbied, kyk sy hom vlak. Wat haar betref, het alle mans wat met rugby te doen het toksakbreine. En sy glo nie vir ‘n oomblik dat die aantreklike Roux van Zyl werklik vir die Bulle gespeel het nie, hy het die T-hemp sweerlik by ‘n drinkebroer gekry. Nee, haar soort man is eerder iemand soos doktor Marius Theron, haar voormalige professor en nou vriend en vertroueling, vir wie sy so getrou bystaan sedert sy egskeiding. Wat die liefde betref, het die vurige Addy egter een ding buite rekening gelaat: Murphy se wet.










