Description
Omnibus 35 drie prag verhale uit die pen van Ena Murray
Die vrou in die spieël (1992): Sy word wakker. Uit ‘n oneindig diepe slaap, voel dit vir haar, want sy is skoon gedisoriënteer en herken nie eens die kamer nie. Dan sit sy regop in die bed en besef: sy herken werklik niks in die kamer nie. Selfs nie eens die hande waarop sy afkyk nie. Is dit háár hande? En as sy uiteindelik die moed bymekaarskraap om in die spieël te kyk, weet sy net: dié vrou ken sy nie. Maar hoe sy behoort te lyk, kan sy ook nie sê nie, want skielik ontdek sy sy kan absoluut niks onthou nie. En toe ‘n lang, aantreklike man skielik die kamer binnestap, haar opraap en weer in die bed gaan sit met ‘n streng vermaning dat sy moet rus, vou iets soos angs om haar hart, want hy noem haar Ansie, ‘n naam wat sy in haar diepste wese wéét nie hare is nie …
Die oujongnooi van Polkadraai (1991): Silpa Stander, een van die beste grimeerdeskundiges in die Kaapse teaterwêreld, besluit om haar talent vir eens op haar eie gesig te beoefen … nie om haarself mooier te maak nie, maar ouer, ‘n volle twintig jaar ouer! Want ter wille van die liewe ta” Fien wat so erg bekommerd is oor haar broer en sy kleinkinders op die plaas, besluit Silpa om haar voor te doen as ‘n middeljarige oujongnooi ten einde die pos te kry as huishoudster vir oupa Dries en sy twee kleinkinders. Maar met die pa van die twee kinders het sy nie rekening gehou nie … hy is veel strenger, veel hardkoppiger, en ook veel, veel aantrekliker as wat sy ooit kon vermoed het!
Die Kleine kring (1961): Toe Henda van Niekerk se verloofde haar ‘n maand voor hul troue inlig dat hy ‘n ander vrou liefgekry het, is sy verpletter. Sy het reeds haar werk as huishoudkunde-onderwyseres bedank, haar woonstelhuur opgesê en omtrent al haar spaargeld spandeer aan ‘n bruidsuitset en nuwe klere vir die wittebroodsreis! En dan, asof in antwoord op gebed, sien sy ‘n advertensietjie in die koerant. Ene E. Retief van Brakrivier is dringend op soek na ‘n huishoudster om so gou moontlik te begin. En sy weet: dis die uitkoms waarop sy gehoop het; as huishoudster sal sy deel kan word van die intieme kring van ‘n gesin – dit waarna sy haar hele lewe lank nog smag. Maar toe sy op Brakrivier aankom, ontdek sy dat die opset veel, veel anders daar uitsien as wat sy vermoed het …















