Description
Omnibus 14 – Drie verhale in waarvan Die glimmende simitar die heel eerste pennevrug van Ena Murray was – geskryf toe sy maar veertien was.
Die glimmende simitar (1969): Rianne maak ‘n sterfbedbelofte aan haar moeder dat sy na haar verlore broer sal gaan soek – agter die golwende wit sandduine van Arabië. Onder die brandende woestynson kry sy egter meer as waarvoor sy gesoek het: sy vind die liefde van haar lewe. Maar hoe kan sy ‘n Arabier bemin? ‘n Geheimsinnige sjeik wat aan brutale stamgevegte deelneem, bereid is om tot die dood toe te veg?
Maanlig oor die Amasone (1966): ‘n Gemaskerde oerwoudman kruis Annalie se pad wanneer sy na haar pa en verloofde in die Amasone gaan soek. Sy sal hom nooit sonder sy masker sien nie, sê Rex vir haar. En daar is geen valsheid in die oerwoud nie: hier leer ‘n mens jouself werklik ken. Maar die Annalie wat sy in Rex se vurige omhelsings leer ken, is vir haar totaal onaanvaarbaar. Intussen moet sy die soektog voortsit. Sy bereik die oerland wat haar pa destyds gaan soek het – maar ‘n verlore paradys is dit nie… Sy besef sy moet wegkom uit die oerwoud, weg van Rex wat al hoe vreemder en ongenaakbaarder optree. En sonder Rex is sy vrou-allleen teen mensvretende plantgedrogte, barbaarse oerwoudwette en die gevreesde vroue van die Amasone…
Eiland in die son (1979): Só lyk dit vir die toeriste wat Fernando Poo aandoen. Maar toe die negentienjarige Willemien in ‘n ligte vliegtuig hier in die tropiese oerwoud neerstort – saam met ‘n geheimsinnige vreemdeling en ‘n jaloerse miljoenêrsvrou, nadat hulle as gyselaars uit hul gekaapte Boeing op pad terug na Suid-Afrika ontvoer is – is dit allesbehalwe ‘n toeristeparadys. Die stryd om oorleweing in die vyandige, bedompige trope begin. En ook Willemien se stryd teen haar verraderlike hart. Hoe kan sy haarself so totaal vergeet in die arms van ‘n geheimsinnige vreemdeling, ‘n man wie se van sy nie eens ken nie? Dit terwyl sy op trou staan met Ian, wat ook in die ongeluk was, maar nou nêrens te vinde is nie.












