Description
Die nuus het vir die Stander-gesin skielik en heeltemal uit die bloute gekom: Hannes, hul enigste seun, is onverwags in Kaapstad oorlede – en Helen, sy Engelse vrou wat hulle skaars ken, kom met haar twee kleuterkinders by hulle op Groenpoort woon. Te midde van al die hartseer en verwarring kom Helen en haar kinders by haar skoonouers se huis aan – waar sy taamlik koel ontvang word.
Buiten haar skoonouers, wat haar tot ‘n mate aanvaar, is daar Lorraine, die oudste suster, wat in die beeldskone en modieuse Helen ‘n bedreiging sien. En daar is Jenny, wie se onstuimige verhouding met die weerbarstige Robbie vir meer as een persoon hoofbrekens gee. Robbie het ‘n verlede – en byna vanselfsprekend gooi hy ook sy flikkers by Helene. En dan is daar die jongste suster, Alet – die meisie met die groot hartseer en die groot talent wat niemand raaksien nie…
Die jong doter Gustav Roux se lewe raak skielik verwikkeld met die Stander-gesin, en spoedig word hy ‘n steunpilaar vir Helen, maar wanneer hy iets meer as platoniese vriendskap van haar verwag, word ook hy ontnugter…









