Description
Keur 5 met drie pragtige verhale uit die pen van Schalkie van Wyk
Anderkant môre wag geluk: ‘n Vakansie op haar oom Pierre le Ri9che se wynplaas by Richeville – dis net wat Vicky nodig het om haar hartseer te vergeet en helderheid te kry oor haar gevoel vir dokter Erich de Lange, wat so lank al met haar wil trou. Vicky aanvaar ’n pos as privaatverpleegster vir tant Monica Volkema op Latour… en ontketen met die besluit ‘n hele kettingreaksie van afguns, slinkse konkelary en misverstande.
Son van liefde: “Jy dra die son van liefde in jou om, Lise,” het haar moeder eenkeer vir haar gesê. En Lise Kirsten se geaardheid bring inderdaad sonskyn aan al die inwoners van Heimat – dit wil sê, almal behalwe die hovaardige en verwaande Herman Raubenheimer. Terwyl sy die gesellin en verpleegster is wat tant Renate so nodig het, en die kameraad wat Deidré se geheime en versugtinge deel, is sy vir Herman niks meer nie as ‘n arm verpleegstertjie wat haar brood moet verdien en moet regmaak wat haar suster verbrou het.
‘n Bruid vir Eduard: Die toekoms lyk rooskleurig vir Liesel Botha wanneer die aantreklike dokter Martin Eloff haar vir ‘n naweek Durban toe neem om sy ouers te ontmoet. Toe hulle egter by ‘n motel stilhou en Liesel agterkom dat sy bedoelings nie heeltemal so eerbaar is nie, beland sy in ‘n ongemaklike situasie. Die enigste ander getuie van haar ongemak is ‘n lang, donker vreemdeling wat hom oor haar ontferm en haar huis toe neem. Die volgende dag stel sy vas dat die vreemdeling, dokter Eduard Stegmann is, die man wat haar tante vir haar as lewensmaat uitgesoek het. Dit wil egter voorkom asof Eduard sy beste vriend se vrou verkies.










