Description
Omnibus 8 met drie lekkerlees-liefdesverhale
‘n Juffrou vir Skurwekop (1986): Met ‘n ysterhand regeer Bertus Kruger oor sy klein koninkryk – Skurwekop se landbouskool. Totdat juffrou Annie Delport die eerste vrou word wat die heiligdom van hierdie mannedomain betree. Gou hou sy die seuns se harte in die holte van haar hand – en inspireer hulle onwetend om ‘n dans van die liefde spesiaal vir hul juffrou te skep.
Hard soos kameeldoringhout (1986): Wat vrees sy die meeste? Die wilde, ongetemde land, of hierdie woeste barbaar? Martie Schlage trek ongenooid agter transportryer Braam Potgieter aan, want na haar ma se dood moet sy net by haar sendelingpa uitkom. “Braam is wild, so hard soos kameeldoringhout. Wanneer hy die dag besef jy is ’n vrou, wil ek nog sien hoe gedra hy hom soos ‘n heer!” het Pieter van Bergen gewaarsku. Maar waarheen kan Martie vlug? En wil sy vlug?
Sandroos uit Meob (1987): As Ansa maar net nooit haar vrouwees in ‘n swart nonnegewaad probeer verskuil h et nie; as sy net nie ‘n leuenweb oor Braam Venter geweef het nie … Maar dit was ter wille van suster Theresa, ter wille van oorlewing. Louw Greyling het net een doelwit – vergelding en om Braam Venter en sy diamante te kry. Suster Ansa is die padkaart na daardie skat. Min kon hy droom dat daar ook ‘n roete na sy hart is …











