Description
Willem Toorop is die bewaarder en kenner van die Molopo-kontrei se verhale; stories wat veral glad vloei oor ‘n koue Dawidbier, of ‘n Langdawid, soos die manne daar sê. Die stories word bevolk deur ‘n verskeidenheid interessante karakters – hulle is eksentriek, aards, beduiweld en beneuk – kortom, mens. Dis ‘n versameling verhale vol humor, maar wat ook iets oordra van menslike lotgevalle oral en te alle tye.
Tussen al die snaaksighede word daar dus soms “‘n Bietjie grom losgeskud”, soos ou Sterkarm wat ‘n vol wynvat tot oor sy skouer kon stoot. “Dis nie dooigewig nie…Jy moet net die slag he.” Willem Toorop is ‘n Molopoer “gebore en getower”, en sy kontrei bly aan hom kleef, waar hy ook al gaan. En daarom bly hy sy stories optower.




















