Description
Omnibus 5 sluit vier pragtige liefdesverhale in deur ons boeiende skryfster, Louisa du Toit (Engela Linde)
Skepe in die nag (1979): In ‘n poging om te ontsnap uit die knellende bestaan van armoede en sosiale isolasie wat haar ouerhuis kenmerk, kom Elna Osman voor brandende kwessies te staan. Daar is die voortdurende kontrastering van haar mense se versukkeldheid met die afgeronde lewenstyl van haar ma se suster, Corlia Ligthart, professorsvrou. Daar is haar nuwe baas, die ongelukkig getroude Neil Collins, wat duidelik wys hoeveel hy van haar hou. Daar is haar verpligtinge jeens Johnny, die ongesofistikeerde jong man wat so sterk op haar liefde aanspraak maak, teenoor die ongekende drif van haar gevoelens vir Christopher Lighthart, ‘n mediese student. Wat Christopher betref, kan hy hom ook nie losskeur van Elna se aantrekkingskrag nie. Maar behalwe dat hulle familie is, is daar ‘n sosiale kloof tussen hulle. Daar is iemand wat wel beter by hom pas: die fyn opgevoede Phoebe.
Die huis langsaan (1977): Luther Luyten word verplaas na Beukendal en betrek die huis wat hy van sy ouers geërf het en wat deur huurders verwaarloos is. Hy sien uit dat sy sussie Eileen vir die somervakansie kom kuier. Luther se eintlike doel met die verhuising is om die beeldskone Rhoda Baird vanuit Kaapstad agterna te lok sodat sy onder haar skatryk ouers se inlvoed kan uitkom. Rhoda is gegrief oor sy besluit en Luther loop gevaar om haar te verloor. Daarby is sy naaste bure raaiselagtig en onaangenaam.
Soetendal se mense (1995): Tien jaar gelede het Duif hom op Soetendal gevestig en almal het kennis geneem dat hy ‘n familielid van ou juffrou Ingrid Telemans is. Ook dat hy ‘n avonturierslewe in die Afrika-bos geniet. Hier leef hy egter heel konvensioneel, doen geen vaste werk nie, pas die bejaarde “Juf” op en ontwyk die attensies van die verliefde Mirrie. Maar Soetendal se mense weet nie van die verraad van ‘n vennoot en die verlies van ‘n geliefde nie. Nog minder ken hulle die groot geheim wat na tien jaar soos ‘n swaard oor sy kop hang. Hy beskou hom as immuun teen vroue – maar dan word sy voete summier onder hom uitgeslaan deur ‘n nuwe, hoewel verbode liefde.
Die goue vuur (1992): Bien Rademan aanvaar ‘n onderwyspos op Kloofdal, waar sy as huislose kind meermale by die Leroys gekuier het. Die dierbare tant Dina is egter intussen dood, en Bien deel die huis met die lamsakkige Lukas en sy irriterende vrou Minta, asook met die jonger broer Rinus, nou aantrekliker as ooit tevore. Rinus het egter net oë vir Yolanda Brown, die vrou met die donker geheim in haar lewe. Wat vir Bien ‘n toevlug moes wees, word ‘n situasie van misverstand en verstrengelde verhoudinge.










