Description
Omnibus 9 sluit vier pragtige liefdesverhale in deur ons boeiende skryfster, Louisa du Toit (Engela Linde)
Sy was ‘n somerdeel (1981): Jonathan Berman kom op die Bolandse dorpie Isaacsdal aan om ‘n stuk dorpsbeplanning vir sy firma te doen. Hy spoel letterlik in stortreën in Katrien Tosen se winkel uit. Min weet hy van die intense innerlike storms wat hy hier sal moet trotseer: Katrien se vooroordeel, haar vriend Gileam se verset teen sy projek, en boweal sy ongewenste familie wat hier woon. Is dit te veel gehoop dat sy werkgewer en die se pragtige dogter Jeannie nie alles omtrent sy verlede uitvind nie?
Dan kom die eensaamheid (1977): Vir Hantie Hasper bestaan daar geen twyfel dat sy en Manus Bruwer binnekort sal trou nie. Sy sal met haar beskeie salaris die pot aan die kook moet hou. Haar ma is steeks om toestemming te gee, en tot oormaat van ramp gebeur daar iets wat haar totaal teen Manus en sy mense laat draai. Tydens ‘n reeks teenslae en vernederings word Hantie slegs staande gehou deur Billy de Meyer, haar werkgewer wat self met verdriet worstel.
Skerwe van geluk (1976): De Wet Vermeulen se ouers is dankbaar toe sy aanneemsuster, Madie, ook ‘n pos in die stad aanvaar. Dan kan die twee tog na mekaar omsien. Elkeen raak egter in eie intriges verwikkel. De Wet se modelmeisie, Emaline, stel hoë eise, terwyl Madie verlief raak op die geheimsinnige Theo Lendorf. In plaas van mekaar by te staan, raak die twee toenemend van mekaar verwyder. Sal die ou toegeneentheid herstel kan word? Of sal hulle immer met skerwe van geluk moet klaarkom?
Lamplig teen die seile (2013): Kinnie Rigter, ‘n weeskind wat by Meyer-familie grootgeword het, vergesel vir Rudolf Viljee en sy ma delwerye toe. Sy is jare al verlief op Rudolf, maar hy is haar niggie Josefien se kêrel. Die Meyers is reeds vooruit en toe Rudolf-hulle daar aankom, is hulle suur omdat die flukse Kinnie nie weer by hulle intrek nie. Kinnie ontmoet hier weer vir Sephton Butler, ‘n speelmaat uit haar gelukkiger kinderjare. Kan daar vir haar uit die harde delwerslewe ‘n sprokie groei?










