Description
Omnibus 8 van ’n immergewilde skrywer se werk bestaan uit drie liefdesverhale
Drome van gister (2002): Dit is nie elke dag dat Alet Britz kans kry om met vakansie te gaan nie. Om tien dae lank saam met vriende te kampeer in die Richtersveld klink na ‘n paradys – weg van die stadsrumoer, haar verpleegstersuniform en haar sieklike ma. Maar haar vriendin Bets se broer is nes ‘n slang in die gras. Na skaars ’n dag in die veld is Jan oortuig Alet is die vrou vir hom. Hoe kan sy aan hom verduidelik sy verkies om hom as vriend te hê, dat haar hart reeds behoort aan iemand anders – iemand wat binnekort op trou staan …
Rots van Stormbaai (2003): Melanie Walters besluit impulsief om die afdraai te neem na die verafgeleë kusdorpie Stormbaai. Hier sal sy en haar seuntjie na hartelus kan vakansie hou, sonder om deur haar knorrige swaer lastig geval te word. Maar Melanie het nie rekening gehou met Stormbaai se eksentrieke inwoners nie. Sommer binne die eerste dae al trap oom Jors, dierbare Thys en die sjarmante plaasboer Giel haar drumpel plat. Maar dis eerder die enigmatiese Lafras Retief wat haar fassineer. Is hy regtig ‘n perlemoensmokkelaar soos Giel suggereer? Waarom klop haar hart telkens in haar keel wanneer hy so stip met sy donker kykers na haar staar?
Rabbedoe se temmer (2008): Vicky Webster is ‘n rykmanskind wat nog nooit in haar lewe ‘n steek werk gedoen het nie. Maar na haar pa se dood kom sy met ‘n skok agter dat hulle plaas bankrot is en dat sy nie ‘n sent in die bank het nie. Gelukkig kruis haar pad met die aantreklike Wouter Hoyt s’n, wat haar voete onder haar uitslaan en sommer ook vir haar werk in hul huishouding aanbied. Pierre, sy ouer broer, is egter glad nie tevrede met die reëling nie, en het boonop ‘n baie jaloerse meisie. Wie van die Hoyt-broers sal hierdie rabbedoe uiteindelik kan tem?












