Description
Omnibus 1 met drie skitterverhale van Ela Spence, een van ons mees geliefde skrywers
Melodie in die nag: Tydens ‘n vakansie ontmoet die aantreklike Pierre Lategan ‘n meisie wat sy asem wegslaan. Sy liefde vir haar verdring alle gedagtes, en na ‘n kort romanse trou hy met die beeldskone Rosa-Rita deur wie se are die Spaanse bloed en temperament diep loop. Op hul wittebrood in Madrid woon hulle ‘n dansvertoning by. En toe sy jong bruid se oë dié van Manuel, leier van ‘n flamenco-dansgroep ontmoet, ontketen dit ‘n reeks gebeure met verreikende gevolge. Melodie in die nag is ‘n lied oor die onverstaanbare weë van die liefde, die liefde wat alles vergeef en alles bedek… en tot wondere in staat is.
Huis van eensaamheid: Op Skippersbaai probeer Phil Swemmer rigting in sy lewe kry. Hier kan hy weer skilder en die afsydigheid van sy stadsnooi verwerk. Maar die huis op die rotse fassineer hom al meer. Is dit sy verbeelding, of kom daar soms angswekkende gille uit die huis? En waarom woon die drie susters so alleen. Huis van eensaamheid is ‘n verhaal van versaakte liefde. . . maar ook van die seëvierende mag van ware liefde.
Klank van die kastanjette: In ‘n Sigeunerskamp naby Nelspruit word ‘n kindjie doodgebore op bykans dieselfde oomblik as wat Rianne Cloete die lewe skenk aan ‘n blakende babadogtertjie. Maar die oggend word die eens lewenslustige babatjie onverklaarbaar dood in haar wiegie gevind. Die swerwerslus voer die Sigeuners terug na Granada waar Madeleina, leidster van die groep, se kleinkind ontluik tot ‘n pragtige vrou. Maar sy is ánders as haar olyfkleurige landgenote – en haar ouma vrees die dag as Rosa begin vrae vra… Klank van die kastanjette is die hartroerende verhaal oor die gevolge van ‘n moeder se impulsiewe liefdesdaad.













