Description
Melodie Omnibus 1 met drie liefdesverhale:
Hart van die son – Elza Rademeyer (2010): Ná uiters traumatiese gebeure in Nadia Pretorius se lewe wat haar in die hof laat beland het, word sy vrygespreek danksy Dewald Duvenage se knap regsvaardighede. Hy kry ook vir haar werk by sy pa se prokureursfirma, waar die streng oubaas Duvenage haar persoonlik onder sy vlerk neem. Toe hy ná vyf maande van mening is dat sy te vasgevang in die verlede bly, dwing hy haar so te sê om met vakansie te gaan. Sy besluit uiteindelik om tog te vertrek – vir ’n herbesoek aan haar grootwordplek, daar waar alles begin het…
Beenaf bokkie – Dirna Ackermann (2010): Die bodem val uit Candy Cilliers se wêreld toe haar ouers feitlik oornag álles verloor. Nou is hulle diep in die skuld by haar oom, Fouché Mulder, en sy is die een wat die gelag moet betaal. Letterlik. Hy verwag van haar om vir hom te gaan huishou, êrens in die grammadoelas waar hy sowaar toelaat dat mense onskuldige bokkies met gewere jag, en haar kwasterige ouma te help versorg.Candy arriveer op die plaas met ‘n verstuite enkel, midde-in die familietwis, en vind gou haar stadsmaniertjies en rykmansdogtergeite staan haar “oom” glad nie aan nie. Fouché is arrogant, baas-spelerig, en wat haar betref nie juis modelmateriaal nie. Hy is boonop allesbehalwe oud en mansmens genoeg om enige vrou die vlaktes in te jaag van frustrasie.
Romanse agter die skerms – Helena Hugo (2008): Colette kyk elke maand in haar gunsteling-tydskrif wie hierdie keer die held van die maand is. In ‘n kompetisie wat net so gewild soos Idols is, wen een gelukkige meisie ‘n naweek saam met daardie maand se held op ‘n romantiese gasteplaas. Colette glo nie juis so ‘n afpaar vir ‘n naweek – boonop met die media konstant naby – kan baie romanties wees nie. In ‘n konkelary, skryf haar vriende by die tydskrif vir Colette in en sorg dat sy ‘n week wen saam met die Desemberheld: Emile. Maar Emile is juis die een man saam met wie Colette nié wil wees nie. Want hy hét al haar hart gebreek. En sy kan hom nie verdra nie. Sal hierdie naweek hulle weer bymekaar bring? Of is dit die aantreklike Antoine de La Roche wat Colette se hart sal verower?










