Description
Equatoria is ’n historiese avontuurroman deur Tom Dreyer, gebaseer op ’n ware ekspedisie deur twee Amerikaanse natuurkundiges in die vroeë 1900’s. Die dierkundige Willis Reed en entomoloog Guy Nichols word deur die Antwerpse dieretuin na Sentraal-Afrika gestuur om die eerste lewende eksemplaar van die ontwykende okapi terug te bring, ’n skaars bosbewonende dier wat sedert sy beskrywing deur sir Harry Johnston in 1902 ’n byna mitiese status gekry het.
Wat begin as ’n ambisieuse wetenskaplike sending, ontbloot geleidelik die werklikheid van koloniale heerskappy. Ontmoetings met Belgiese koloniale amptenare, fanatiese rubberboere en plaaslike gemeenskappe, tesame met die mans se toenemende isolasie, laat hulle al hoe meer twyfel aan hul missie en die ideale waarmee hulle vertrek het. Die roman ontwikkel só van ’n klassieke Afrika-avontuurverhaal tot ’n skerper blik op koloniale korrupsie en misplaaste ambisies.
’n Goeie keuse vir lesers wat van historiese romans gebaseer op ware gebeure, Afrika-geskiedenis, avontuurrstories en verhale oor die donkerder kant van koloniale ekspedisies hou.



























