Description
Lotta se Lewe: Bendes, swape en skape deur Alice Pantermüller is die tweede boek in ’n humoristiese Afrikaanse jeugboekreeks oor die avontuurlustige tienjarige Lotta Liebenberg. Die storie word in dagboekvorm vertel, met handskrifagtige teks en Daniela Kohl se snaakse sketse en illustrasies wat die leeservaring ekstra prettig en toeganklik maak.
Wanneer Berenice Hoogenhout ’n eksklusiewe meisiebende, die Glamour-meisies, begin, besluit Lotta en haar beste vriendin Cheyenne om hul eie bende te stig: die Wilde Konyne. Hulle kry selfs ’n geheime bendehuis in ’n boom, maar om genoeg lede te werf, blyk moeiliker as wat hulle verwag het. Die enigste beskikbare kandidate is die klas se swape, en dan raak regte skape ook nog by hul planne betrokke. ’n Skreeusnaakse dagboek vol skoolavonture en deurmekaar bendeplanne.

















