Description
Die mikstuur van Mooies deur Pirow Bekker is ’n satire op Suid-Afrika se politieke en sosiale werklikheid, met die klem op verstokte denke, die oorgevoeligheid en agterdog aan weerskante van die kleurlyn, asook die selfbelangrike houding van die joernalistiek. Die roman vertel die lewensverhaal van Moorrees MacAteer, oftewel Mooies Mikstuur, ’n plattelandse seun wie se vel met ouderdom verdonker. In apartheid-Suid-Afrika word hy gevolglik op skool geviktimiseer.
As joernalis raak Mooies later betrokke by ’n politieke skandaal wanneer hy daarin slaag om die vooraanstaande politikus Riël Schouwenburg by ’n seksskandaal met ’n swart vrou te betrek. Die gebeurtenis het ook persoonlike gevolge, veral vir sy verhouding met Schouwenburg se dogter, Helena. Wanneer Mooies en Riël deur ’n regse weerstandsgroep geïntimideer word en Mooies uiteindelik by die Schouwenburgs se huis doodgeskiet word, neem die verhaal ’n donkerder wending. Bekker gebruik ’n interessante verteltegniek waarin Riël Schouwenburg Mooies se nagelate manuskrip beoordeel en deur interpolasies sy eie kommentaar op die gebeure lewer.


























