Description
Omnibus 6 sluit drie pragtige liefdesverhale in deur ons boeiende skryfster, Louisa du Toit (Engela Linde)
Dryfhout (1979): ‘n Jong onderwyseres beland in ‘n maalstroom-situasie met haar skoolhoof en haar verloofde. Petro Schon en Danie Momberg het reeds op laerskool gekys geraak. Aan haar gevoel vir hom twyfel sy nie, hulle brand om te trou. Daar ontstaan egter ‘n sterk, wedersydse aanvoeling tussen haar en haar nuwe skoolhoof, Louis Paulter. Hy is ongelukkig in sy huwelik met die oudaktrise Barbara, wat weier om sy seuntjie te aanvaar. Petro Schoon se lewe word uiteen geskeur, en sy en Danie word rongeruk deur stormwinde wat hulle in hul lang, rustige verhouding nooit voorsien het nie. Die sterk slot van hierdie roman laat baie stof tot nadenke.
Gesig van die lewe (1976): Liefde, eensaamheid en wanaanpassing openbaar hulle op eienaardige manier, en waar kan dit beter aan die lig kom as wanneer ‘n groep mense onder een dak saamgegooi word? Soos Bird-se-Plek, die losieshuis van Sarah Bird met haar trapsoetjie-oë en gedweë man? Besoekers uit die verlede daag op, en saam daarmee vind ‘n skokgebeurtenis plaas wat heelwat aan die lig bring. Fyn waarneming en unieke humor sorg vir eg menslike maar ook vreemde situasies, wat die verhaal verfrissend anders maak.
Uur van die pêrel (1997): Nadat hulle op ‘n oorsese toer ontmoet het, is Brenda Roter en Nico Ryneveld onteenseglik verlief. Hy talm egter so lank dat Brenda self op ‘n ring skimp. Hy kom stad toe vir die verlowing, asook vir die huwelik twee maande later. Haar nuwe tuiste is Nico se mielieplaas Mooifontein, waar sy aandag meteens deur die komende oes in beslag geneem word. Hy laat die opknap van die huis in Brenda se hande, maar sy word al hoe meer deur vrae verteer. Voel Nico dat sy hom kansel toe gedwing het? Waarom raak hy soms so stug? Wat is Stella van Staden se rol in sy lewe? Vreemde dinge begin gebeur. Onrusbarend, spookagtig, by tye lewensbedreigend. Brenda beland in ‘n maalkolk wat dreig om haar te verswelg. Sal sy gedwing word om pad te gee? Maar hoe skeur sy haar ooit los van Nico … en van Mooifontein, met sy douvars vroegoggende wat sy en Nico die uur van die pêrel noem?











