Description
Omnibus 25 sluit drie liefdesverhale in deur een van die mees gewildse skrywers in Afrikaans
Nuwe horison (1974): Toe die aantreklike dr. Luther Lubbe onverwags by haar verjaardagpartytjie opdaag, klim ‘n duiweltie op Hendrien Hugo se skouers. Sy flankeer openlik met die stugge man en geniet dit om te sien hoe warm hy onder sy boordjie raak. Maar dan kap hy terug met ‘n opmerking wat haar heeltemal onkant vang: dat sy aantreklik en gewild mag wees, maar dat hy nie aangetrokke voel tot mooi, leë poppe nie. Sonder dat Hendrien kan verklaar waarom, bly die opmerking haar by, en kyk sy skielik met nuwe oë na haar sorgvrye rykmeisiebestaan. Sy het nog nooit voorheen haar lewenstyl betwyfel nie, maar nou voel sy vreemd skuldig as sy elfuur in die oggend gaan tennis speel en laatmiddag by skemerkelkpartytjies opdaag. Toe sy kort daarna hoor dat dr. Lubbe se hospitaal op soek is na jong vroue soos sy om as saal-gasvroue op te tree, weet sy wat sy gaan doen. Sy sal dr. Lubbe op sy eie terrein gaan konfronteer en aan hom bewys dat sy nie net ‘n popgesiggie is nie!
Bloeisels in die ryp (1963): Die skrander kinderhuiskind Renske Conradie se droom om ‘n universiteitsgraad te verwerf en ‘n onafhanklike bestaan vir haarself te skep, spat aan skerwe toe sy hoor dat sy is swanger. Sy het nooit kon dink dat een enkele aand van passie so ‘n verskriklike gevolg kan hê nie, maar dan troos sy haar daaraan dat Desmond, haar beste vriend en geesgenoot, haar so nooit as te nimmer in die steek sal laat nie. Hy sal met haar trou en hulle sal gelukkig wees. Maar toe sy uiteindelik Desmond se tuisadres opspoor en gaan aanklop by die imposante herehuis, tref sy net sy broer daar aan. Volgens Brand Laubscher is Desmond Engeland toe, en beplan hy nie om gou terug te keer nie. Renske staan skielik vrou-alleen voor die grootste krisis van haar lewe: sy het geen heenkome en geen geld nie; boonop dra sy ‘n nuwe lewe onder haar hart. Wat staan haar te doen? Moet sy aan haar trots vasklou, of moet sy iemand soos Brand Laubscher se huweliksaanbod aanvaar?
Zuleka Bordeaux (1975): Toe Zuleka se jonger sussie aankondig dat sy op die tuinier verlief is en dat hulle wil trou, is Zuleka nog meer ontsteld as haar ouers. Hoe durf Suzannne hul familie so in die skande steek? Besef sy dan nie dat ‘n huwelik tussen ‘n adellike en burgerlike uit die staanspoor gedoem is nie? Ter wille van die familienaam stel Zuleka voor dat sy Suzanne op ‘n bootreis na Batavia vergesel. Maar dan word hul boot deur die berugte seerower Juan Costeaux, die Leeu van die See, gebuit en Zuleka leer vir die eerste keer die krag van haar eie emosies ken. Zuleka se haat vir die seerower is sterk. Sy wil hom laat boet vir elke vernedering, elke ontbering wat hy haar en Suzanne laat ly het, en sy weet hóé om dit te doen…














