Description
Oupa Timotheus Smalberger is weliswaar ‘seuwentig’ jaar oud, maar dis ‘n baie jong ‘seuwentig’; soos hy sy familie en vriende altyd op die hart druk. Sy opgewondenheid toe ‘n vlieende piering op sy plaas kom land het, was groot, en sy opgewondenheid oor die vooruitsig om die brokkie nuus in Die Basuin gepubliseer te sien, nog groter.
Dis hoe hy sy Poppedyntjie, alias Teresa Manders, ontmoet, en ‘n liefde jeens haar so groot soos die berge ontspring in sy hart. As sy lamsak-kleinseun Matt dan nie Teresa se deugde raaksien nie, hy sien hulle wel raak, en vir haar laat hy gewis nie deur sy vingers glip nie.
Teresa laat haar maar Oupa Tim se geskimp, getorring en gedreig welgeval, want dis tog net die onskadelike giere van ‘n ou man. Buitendien is sy aan die vlug vir Jako Meyer, en Maandagshoek is net die plek om oor haar hartsverdriet te kom.
Dit neem haar egter nie lank om uit te vind dat oupa Tim inderdaad ‘n jong – en slinkse – ‘seuwentig’ is nie.
Maar intussen is daar ander dinge aan die gang op Maandagshoek: dinge waarby Sondagsplaas nou betrokke is. Sinistere dinge. Teresa kan nie haar vinger op die wond le nie, want Lydia le Roux is tog ‘n mooi vrou en intelligent – een van wie Teresa graag ‘n vriendin sou wil maak.
Aan hierdie dinge steur Matt Smalberger hom weinig, al vind hy dit moeilik om nie bewus te bly van die goue rykdom van Teresa se hare nie…










