Description
Al die groot kultuurtale het woordeboeke wat die woordeskat uitvoerig beskrywe en verklaar. Nederlands het bv. die W.N.T wat ondanks sy 25 omvangryke boekdele nog nie klaar is nie, en vir Engels is daar die Oxford Dictionary met 16 lywige boeke. Aan die staatsondersteunde woordeboek van Afrikaans word nog gewerk; van 1950 tot 1967 het 4 massiewe dele van A tot I verskyn. Maar die meeste mense het die behoefte aan iets meer beskeie in formaat en prys, by voorkeur een enkele hanteerbare boekdeel. Sulke handwoordeboeke kan vanselfsprekend nie volledig wees nie. Trouens, die besondere woordeskat van die ambagte, tegnieke en akademiese studierigtings word gewoonlik in afsonderlike vakwoordeboeke behandel. ‘n Goeie handwoordeboek beperk hom tot die algemene beskaafde taal, met vermyding van dialektiese en weining gebruiklike woorde, en verklaar ook nie samestellings en afleidings wanneer hulle betekenisse maklik van die dele afgelei kan word nie. Die kernwoordeboek voldoen aan die eise van ‘n goeie woordeboek.


















