Die Hebreërgemeente was moeg, moedeloos, vol twyfel en ontreddering, baie soos ons vandag. Ons het ons moed en uitsig verloor. Party van ons begin selfs vra: Is daar werklik ‘n God? Is Hy nie maar net ‘n illusie waarmee goedgelowiges hulleself bluf nie? In sy diepgaande Bybelstudie oor Hebreërs antwoord Andrie du Toit hierdie vraag by monde van die Hebreërsskrywer; nie met ‘n rasionele verdediging van God nie, maar met ‘n fiere geloofsbelydenis.
Hebreërs vir vandag wil aan die leser nuwe sekerheid, moed, vrymoedigheid en blyheid gee. Dit wil weer die gelowige se visie op Jesus Christus as Middelaar en Hoëpriester vestig. Met die bestudering van die twintig studies sal jy besef Hebreërs het ‘n kragtige boodskap vir vandag. Baie dinge het verander, maar Jesus Christus het dieselfde gebly. Hy was die antwoord vir die Hebreërgemeente; Hy is dit vandag nog vir ons.