Metodologie Vir Die Sosiale En Gedragswetenskappe bied ‘n inleidende oorsig van navorsingsmetodes in vakrigtings soos die sielkunde, sosiologie, opvoedkunde en kriminologie.
‘n Opvallende kenmerk is dat dit sowel kwantitatiewe as kwalitatiewe benaderings behandel en op die onderskeidende, dog komplementere aard daarvan wys. ‘n Uiteenlopende verskeidenheid navorsingsontwerpe en metingsprosedures word bespreek, maar die onderliggende doel, te wete om as hulpmiddel by die maak van verantwoordbare gevolgtrekkings te dien, word nie uit die oog verloor nie. Die titel bevat ook twee hoofstukke oor die praktiese beplanning van navorsing en die opskrifstelling daarvan. Die onderwerpe sal uiteraard eers op nagraadse vlak tot hul reg kom, maar die grootste gedeelte van die werk kan reeds op voorgraadse vlak met vrug gebruik word. Etlike voorbeelde van Suid-Afrikaanse navorsing word aangehaal. Elke hoofstuk word met enkele oefeninge afgesluit waarvan die antwoorde in ‘n bylae verskaf word.